Site icon Accidents.co.za | Discussion, Prevention, Investigation and Response

Noue ontkoming vir bestuurder na ongeluk in Oudtshoorn

Die jong man wat Sondagoggend met sy wit Toyota Cressida in ‘n botsing met ‘n rooi BMW by die kruising van Baron van Reedestraat en Voortrekkerweg betrokke was, is slegs lig beseer.

Die Oudtshoorn Courant het vandag ‘n besoek aan sy werkgewers gebring. Volgens hulle is dit ‘n wonderwerk dat hy slegs ligte beserings opgedoen het.

“Toe ek van die botsing hoor het my man dadelik na die toneel gejaag, maar toe hy die kar sien het hy gedink dit is onmoontlik dat Stefan lewendig daar uit kon kom. Ek het hospitaal toe gejaag en was verstom toe hulle my meedeel dat hy net lig beseer is,” het die mede-eienaar van die onderneming gesê.

Die Oudtshoorn Courant het vandag telefonies met Stefan Speelman gesels waat hy by sy ouerhuis aansterk en hy het gevra dat hy geleentheid gegun moet word om te herstel voordat hy sy weergawe van die botsing gee.

Inligting oor die beserings en identiteit van die agtiernjarige jong vrou wat ‘n passasier in die BMW was, kon nog nie bevestig word nie. Die botsing het tussen 06:00 en 06:30 plaasgevind toe die BMW die Cressida van Stefan teen die linkersy getref het. Die slag het die Cressida teen twee pale vasgeslinger.

Die bestuurder van die BMW is nie beseer nie en hy het ‘n ruk nadat sy passasier met die ambulans weg is vir nooddienswerkers gevra waar sy is.

[Oudtshoorn Courant]

Exit mobile version