Site icon Accidents.co.za | Discussion, Prevention, Investigation and Response

Lesotho se voedselsekerheid krisis gevaarlik vir Suid-Afrika

“Ons neem kennis dat Lesotho, asook van ons ander buurlande, in die middel van ‘n voedselsekerheid krisis is en dat Suid-Afrika die gevolge daarvan sal voel”, sê Francois Wilken, President van Vrystaat Landbou (VL).

Wilken se reaksie volg op die uitlating van Lesotho se Eerste Minister wat hierdie week ‘n nasionale ramp verklaar het as gevolg van die droogte wat deur El Niño veroorsaak was. Dit was gerapporteer dat nagenoeg 700 000 Lesotho burgers humanitêre hulp benodig en dat R2.1 biljoen benodig word om hierdie humanitêre hulp beskikbaar te stel. “Ons erken die situasie en het werklik simpatie vir die mense wat honger ly, ons ondersteun ‘n markgerigte stelsel van humanitêre aksie om kos aan te koop om die mense in ‘n geordende manier te help”, sê Wilken.

Vrystaat Landbou het egter ook sy kommer uitgespreek dat die hongersnood in Lesotho tot verhoogde misdaad op Suid-Afrikaanse grense kan lei. “Twintig hektaar droëbone is by ons gesteel voor dat ons dit kon pluk,” vertel ‘n boer. “Ons het wagte wat 24/7 by ons mielies waak.” Die noodsaaklikheid van ekstra sekuriteit sal ‘n swaar las op Suid-Afrikaanse boere plaas, waarvoor VL vir ekstra ondersteuning vra.

In ‘n onlangse opname deur VL se Veiligheids Risiko-analis, Dr Jane Buys, oor Lesotho beeste wat op Suid-Afrikaanse meentgronde wei en wat opgepas word deur Lesotho burgers, wie ook heel moontlik onwettig in die land is, is uitgewys dat die probleem nie net langs die Lesothogrens plaasvind maar op meeste meentgronde in die Vrystaat, veral om
die myne. Verder is daar ook Lesotho burgers wie onwettig in diens geneem word. “Dié aktiwiteite dra by tot ‘n manier om geld te maak om kos te koop om huis toe te stuur, maar het ‘n groot impak op veral klein en opkomende Suid-Afrikaanse boere wie op die meentgronde probeer begin boer, asook op die algehele kriminaliteit in die platteland, en
dus ons eie voedselsekuriteit belemmer.” meen Buys.

Vrystaat Landbou rig daarom ‘n ernstige beroep op die regering om Suid-Afrikaanse boere, groot en klein, en veral dié langs die Lesothogrens, te beskerm teen diefstal sodat hulle optimaal en produktief kos kan produseer om aan die mark te voorsien. “Indien boere nie produktief kan boer nie en oortollige tyd en fondse in eie sekuriteitstelsels moet belê, word dit nie meer die moete werd – fisies, emosioneel of finansieel – om te boer nie. Dit sal die hele Suidelike-Afrika beïnvloed en tot verdere voedseltekorte lei.

Exit mobile version